MENU

Where the world comes to study the Bible

Genade Onbeskryflik Groot: Die Liefde van God Maak Vry!

Vertaal deur Cosmos Booysen

Dit is eintlik ‘n eenvoudige stap – ‘n logiese stap – om te beweeg vanaf ons sondige natuur na God se genadegewende liefde. Want as Hy ons enigsins liefhet – wat beslis so is – moet dit ‘n liefde wees wat in Sy genade gewortel is. Hy kon ge-eis het dat ons sekere voorwaardes moet nakom voordat Hy ons seën met elke goeie ding wat Sy welwillende hart van kon droom. Maar, sou dit die geval wees, sou ons nooit Sy liefde kon ondervind nie. Want “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.“ (Rom. 3:10) Maar die liefde van God word wonderlik gemanifesteer in Sy genade teenoor onverdienstelike sondaars. Dit is presies wat genade is: God se liefde wat vryelik vloei na die onwaardige.

Skrywer en evangelis Luis Palau skryf in Pursuit:

Dank die Here dat Sy genade nie ‘regverdig’ is nie. ‘n Klompie jare gelede was een van my neefs (ek sal hom Kenneth noem) op die randjie van die dood met VIGS. Gedurende ‘n familiereünie in die berge van Noord Californië, het ek en Kenneth ‘n wandeling geneem. Hy was net ‘n geraamte, smagtend vir asem.

Kenneth, jy is sekerlik bewus daarvan dat jy enige dag nou kan sterf. Het jy die ewige lewe? Jou ouers is so angstig hieroor en ek moet weet.

“Luis, ek weet God het my vergewe en dat ek hemel toe gaan”.

Kenneth het vir baie jare, van sy vroeë tienerjare af, homoseksualiteit beoefen. Nog meer as dit, in rebellie teen God en sy ouers, hy het met sy leefwyse te koop geloop.

“Kenneth, hoe kan jy dit sê?” het ek gevra. “Jy het teen God gerebelleer en gespot met die Bybel, jy het jou familie so bitterlik seergemaak. Nou sê jy, jy het die ewige lewe, sommer net so?”

“Luis, toe die dokter my vertel dat ek vigs het, het ek besef watter gek ek was.”

“Dit weet ons”, het ek moedswillig geantwoord omdat Kenneth wel geweet het dat die Bybel leer dat homoseksuele gedrag ‘n sonde is. “Maar het jy waarlik bely?”

“Ek het bely en ek weet dat God my genade betoon het. Maar my pa wil my nie glo nie.”

Dis omdat jy jou lewe lank in sy gesig gerebelleer het,” het ek gesê. “En jy het sy hart gebreek.”

Kenneth het my reguit in die oë gekyk en gesê: “Ek weet dat die Here my vergewe het”.

“Het jy jou hart vir Jesus oopgemaak?”

“Ja. Luis! Ja!”

Terwyl ons, ons arms om mekaar geslaan het, saamgebid het en nog gepraat het, het ek oortuig geraak dat Jesus al Kenneth se rebellie vergewe en sy sonde weggewas het. Net ‘n paar kort maande later, het hy op 25 jarige ouderdom verhuis om by die Here te wees. Soos wat Palou sê: “My neef, soos die misdadiger op die kruis, het God se genade nie verdien nie. Ek ook nie. Nie een van ons nie. Dit is wat genade is – onverdiende guns”.1

Genade is die tema van die Nuwe Testament en die sleutel om sy boodskap te verstaan. Die Nuwe Testamentiese skrywers praat van bekering en altyd word dit verbind met die genade van God. Ons bekering van sonde en die toorn was God se genade gedagte nog voor die begin van tyd (2 Tim 1:9) en het gerealiseer in die geskiedenis volgens Sy genadeplan en wil (Romeine 8:30). Ons is gered deur die genade van God nie deur werke nie, (Ef. 2:8-9) en die genade van God leer ons om vanuit ons bekering in ‘n eerbare manier voor God te leef (Titus 2:11-12). Die lof van die glorieryke genade van God is die finale doel van bekering. (Ef. 1:6). In kort, dis genade van begin tot einde.2

Net sodat ons die omvang van God se genade kan verstaan, gee Hy baie voorbeelde in die Bybel, in besonder, die voorbeeld van die apostel Paulus. Is dit nie ongelooflik dat God die grootste wettis van alle tye neem en hom die grootste voorbeeld van genade maak nie? Paulus het gesê dat God hom gekies het sodat mense van hom mag leer – ‘n moordenaar en vervolger van die kerk – die ware en volle omvang van God se genade.

1 Tim 1:15 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. 1:16 Maar daarin is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ‘n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.

Onderwyl ons in oorlog met God is—vyande soos Paulus in Romeine 5:10 sê—was Hy besig om ‘n weg te vind om Sy genade uit te stort op ons. Watter onbeskryflike liefde.

Gedurende WWII het ‘n man gesterf en sy twee vriende het desperaat probeer om hom ‘n behoorlike begrafnis te gee. Hulle het ‘n begraafplaas gevind in ‘n nabygeleë dorpie. Dit was ‘n Rooms Katolieke begraafplaas en die afgestorwene ’n Protestant. Toe die twee vriende die priester vind wat in beheer is van die begraafplaas, vra hulle toestemming om hul vriend daar te begrawe maar die priester het geweier omdat die man nie ‘n Katoliek was nie. Toe die priester hulle teleurstelling sien, het hy verduidelik dat hulle hul vriende net buitekant die omheining kan begrawe. Wat hulle toe ook gedoen het.

Later het hulle teruggekeer om die graf te besoek maar kon dit nie vind nie. Die soektog het hulle teruggelei na die priester by wie hulle toe navraag doen oor wat met die graf gebeur het. Die priester vertel hulle toe dat hy die nag nie kon slaap nie. Toe het hy opgestaan om die omheining te skuif sodat dit die dooie soldaat insluit.

So is dit ook met God. Hy kon ook nie slaap nie tot Hy ‘n manier gevind het om die onwaardige en onbeminlike in te sluit in Sy genadegewende liefde. Inderwaarheid het Hy nie net die omheining geskuif nie, Hy het die versperrings vernietig tot in Sy Heilige teenwoordigheid. Maar Hy het dit gedoen deur die genade van ons Here Jesus Christus en Sy kruis. Dit is deur die gekruisigde Christus en deur Hom alleen, dat ons vryelik na ons Vader mag gaan (Joh. 14:6). Die vraag wat bly is, het jy dit gedoen? Het jy van jou sonde af weggedraai en Christus met jou hele hart aangeneem? Daar is geen tyd soos die onmiddellike nie! Hy het belowe om Sy onbeskryflike genade uit te stort op almal wat na Hom kom in belydende geloof, om Sy liefde te rig op almal wat die Here hulle Helper en Redder soek. Dit is ‘n passie by God om Sy genade op jou uit te stort, sodat jy die ervaring van Sy oorvloedige eerstehands kan ervaar. Jy het daarvan gehoor, ontvang dit nou!

“O, almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.”—Jesaja 55:1-2


1 Luis Palau, “God’s Ocean of Grace,” Pursuit, vol. 4, no. 11.

2 J. I. Packer, Key Bible Themes: Studies of Key Bible Themes (Grand Rapids: Baker, 1981), 94-95.

Related Topics: Devotionals, Law

Report Inappropriate Ad